Almal kan inblynaweke in die Huis onthou. Hierdie naweek beloof egter om die beste een nóg te wees. Bring jou eertydse seksie of selfs net ‘n paar mede-oud-Dagbrekers saam, gee jouself oor aan nostalgie, laatnaggesprekke rondom braaivleisvure in die quad, en beleef nog ‘n slag die unieke gevoel van die Huis van Roem en Faam. 

Vrydagaand: Die legendes van die Donderbalkie sluit by ons aan in die Quad.  

Saterdagoggend: ‘n Paar interessante sake sal tydens die Jaarvergadering bespreek word. Besprekingspunte kan voorlopig aan Willem gestuur word by willeml@swartland.co.za

Saterdagmiddag: ‘n Gedenkbord word aan die Ultimate Rugby Museum oorhandig om Dagbreek se Springbokke van die afgelope honderd jaar te vereer. ‘n Paar van hierdie ou Bokke mag selfs ‘n verskyning maak. Later in die middag sal die tydkapsule wat met die viering van Dagbreek se 75ste bestaansjaar onder die eiffel begrawe is, opgegrawe en oopgemaak word. ‘n Nuwe tydkapsule sal natuurlik dan sy plek inneem. 

Saterdagaand: Ná die informele gekuier van die vorige dag, breek die tyd vir ‘n formele dinee in Stellenbosch se stadsaal aan. Bywoners sal vermaak word deur die wêreldberoemde musiekgroep Bottomless Coffee. Lourens Rabe, een van die lede, is terloops ‘n oud-Dagbreker! Die Universiteit se Bedryfshoof en kranige oud-Dagbreker, professor Stan du Plessis, sal die gasspreker op hierdie geleentheid wees. 

Sondagoggend: Afsluiting van die naweek met ‘n kerkdiens in Visholpark. Vrouens en kinders is welkom om dit by te woon.

Neem kennis van die volgende: 

  • Akkommodasie is op beperkte basis in die koshuis beskikbaar @ R300 per nag. Dit sluit volledige ontbyt in.  
  • Diegene wat nie in die koshuis oorslaap nie, moet asseblief ‘n bywoningsfooi van R50 betaal (dit dek Vrydag en Saterdag se gebeurtenisse in die koshuis). Hierdie bydrae stel die ODB in staat om die nodige toebehore, personeel, skoonmaakdienste en ander uitgawes te dek.  
  • Afgesien van die bogenoemde, is die koste vir bywoning van die dinee R600 per persoon. Bespreek vroeg, aangesien daar beperkte beskikbaarheid is. 
  • Ligte etes sal op die quad verkoop word Vrydagaand en Saterdagmiddag. 

No Comments

Leave a comment